Twee polisiebeamptes vas wat skelm drank koop

Deel hierdie storie / Share this story

WES-KAAP. – Sedert die inperking, is altesaam 16 drankwinkels in die Wes-Kaap beroof.

Gnrl. Bheki Cele, minister van polisie, het dié kriminele optrede ten sterkste veroordeel.

Cele het die provinsie Saterdag besoek en die polisie bedank vir hulle vinnige optrede om 21 verdagtes in hegtenis te nem.

Vier van dié verdagtes was glo ook betrokke by die plundering van die Shoprite-drankwinkel in Langa, op die eerste naweek van die inperking.

Cele het sy kommer uitgespreek oor polisielede wat na bewering by van die misdade betrokke is.

Twee adjudant-offisiere van Delft in die Wes-Kaap, tesame met die eienaar van ’n drankwinkel en ’n kassier, is Donderdag in die Strand in hegtenis geneem. Die polisielede was glo besig om drank te koop om weer êrens anders te verkoop.

Cele het die gemeenskap gewaarsku die polisie gaan nie toelaat dat mense aanhou die reëls van die inperking oortree nie.

“Misdaad het sedert die inperking afgeneem. Ons moet aanhou om misdadigers in hegtenis te neem sodra hulle oortree. Dankie vir die samewerking van die gemeenskap om dit te laat gebeur.”

Hy het gesê die ondernemings in Mbekwini en Kraaifontein gehoorsaam die wet en maak seker kliënte staan ver van mekaar af in ’n ry en gebruik ook handreinigers.

Hy was wel bekommerd oor straatverkopers wat te naby aan mekaar op die sypaadjies staan. Brig. Mathapelo Peters, waarnemende woordvoerder van die polisie, sê die polisie sal nou aandag gee aan dié gelisensieerde verkopers om seker te maak die maatreëls van die inperking word gevolg.