KIMBERLEY – Haelkorrels, amper so groot soos gholfballe, het menige inwoners van Kimberley vanmiddag met groot skade agtergelaat.
Sommige inwoners het op sosiale media gesê hulle motors was nie vooraf onder ‘n afdak getrek nie en is weens die storm nou beskadig.
“Ek het nog nooit in my lewe van amper 50 jaar sulke groot haelkorrels gesien nie,” sê Hester van der Merwe. “Hier het ‘n paar groot boomtakke afgebreek en al die plante in my tuin is stukkend geslaan.”
Sommige inwoners se ruite is ook deur die massiewe haelkorrels stukkend geslaan.
“As ek so kyk na hoeveel skade aangerig is, dink ek dis ook maar goed dat almal in hulle huise was!”










