Nuwe ouers bekommerd oor bababenodighede

KIMBERLEY – “Ek kan nie wag dat die tweetjies huis toe kom nie. Ek bekommer my egter oor twee dinge. My vrou se gesondheid en of ons genoeg bababenodighede aangekoop het,” sê ’n inwoner van Kimberley (23) wat gister pa geword het van ’n gesonde babaseuntjie.

Sy vrou (24) het gister komplikasies met haar swangerskap gehad en moes ’n noodkeiser ondergaan. Weens die inperking en Covid-19 was die getroude paartjie bekommerd oor hulle dalk glad nie die geboorte-ervaring sal kan deel nie.

Toe die paartjie hoor dat ’n noodkeiser nodig sou wees, was beide bang vir wat moontlik kon skeefloop. “Ek dink nie enigeen kan die onsekere, angstige gevoel wat ons ervaar het, beskryf nie.”

Die paartjie is vol verligting en dankbaarheid dat die geboorte goed verloop het. Hulle is maar skrikkerig en probeer alles in hulle vermoë doen om hulle seun, wat by geboorte 3,12 kg geweeg het, teen Covid-19 te beskerm.

Die hospitaal se besoektye is aangepas en die pa kan sy vrou en seun nou slegs vir twee ure per dag besoek. Hy sê hy kan nie wag dat hulle huis toe kom nie. “Sodat ons ’n bietjie gesinstyd saam kan deurbring voor die hele familie na die inperking op ons toesak!”

Die paartjie het met die uitbraak van Covid-19 vooraf die meeste benodighede aangekoop. Hulle is bekommerd oor die moontlike verlenging van die inperking en die feit dat hulle aankope dalk nie genoeg was nie.

“Ons glo, hoop en vertrou die regering sal ’n vergunning maak sodat ons die basiese benodighede kan gaan koop as dit sou nodig wees.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *