Tydens president Cyril Ramaphosa se regstreekse toespraak aan Suid-Afrikaners op 9 April, presies twee weke na die inperking in die land begin het, het hy die inperkingstydperk met twee weke verleng.
Die aantal persone wat in SA wat tot dusver vir Covid-19 positief getoets het, is 1 934. Hy sê sedert die begin van die inperkingsperiode het die spoed waarteen gevalle in SA styg, aansienlik verminder.
Hy bedank alle Suid-Afrikaners vir hulle samewerking, toewyding en geduld in die afgelope twee weke. Hy sê Suid-Afrika se vordering teen die virus in die afgelope twee weke sou tevergeefs wees indien die inperking te vroeg beëindig sou word.
“Ons almal wil hê mense moet terugkeer werk toe, kinders moet terugkeer skool toe en ons almal wil weer vryelik kan rondbeweeg,” sê die president.
Die president sê die land se strategie teen die virus behels deeglike openbare gesondheidsreaksie, ‘n inklusiewe ekonomiese ondersteuningsnetwerk vir entrepreneurs en besighede wat deur die virus geaffekteer word en ‘n program om armer huishoudings te ondersteun.
Tot die einde van die inperking geld dieselfde reëls steeds.
“Dis vir ons almal ‘n moeilike tyd. Tog bly die boodskap van Paasfees in ons harte. Dis ‘n boodskap van hoop, herstel en wedergeboorte. Daar word baie van julle verwag, meer as wat veronderstel is om verwag te word, maar hierdie is ‘n saak van lewe en dood.”



