Selfgemaak in musiek

Deel hierdie storie / Share this story

Doane Smith, sanger, liedjieskrywer en kunstenaar, gesels met FiND iT oor hoe hy homself geleer het om kitaar te speel en hoe hy sy sukses behaal het.

Doane Smith (39) is op 27 Februarie 1981 in Pretoria gebore en het onbewustelik sy musiekloopbaan op die jong ouderdom van 15 begin. Doane het sy eerste kitaar gekoop met geld wat hy gespaar het deur take uit te voer soos gras sny.

Doane het geleer hoe om kitaar te speel deur na musiek op die radio te luister. As tiener het hy ure lank geoefen om liedjies op sy kitaar te speel. “Ek het nie soos ander tieners gekuier nie. Ek het op die minste vier ure elke dag spandeer met my kitaar. Ek het baie arm grootgeword, so daar was nie geleentheid om vir enige lesse te kon gaan nie. Alles wat ek vermag het, het ek myself geleer.”

Inspirasie

“Ek het grootgeword deur om vir my oom te kyk terwyl hy in ’n groep gesing het. Ek het van kleins af geweet dit is wat ek eendag wil doen, daai saadjie was daar al geplant.”

Doane sê sy gunstelingliedjies is dié wat betekenis het. “Iets met gevoel, betekenis, soul, iets wat vir jou ’n prentjie in jou gedagtes skep. Om maar een voorbeeld te noem –  Father and Son.

Hy het ook meer as een gunstelingkunstenaar. “Ek het nie net een nie so om ’n paar te noem: Neil Diamond, Sir Elton John, Cat Stevens, Don Williams, Bruce Springsteen en dis net as ons praat van ’n  paar Old School. Daar is nog baie meer.”

Jare lank gewerk

“Ek maak nou voltyds musiek nadat ek vir 10 jaar lank ook gewerk het terwyl ek gesing het. Ek en my vrou het die ekstra musiekgeld gebruik om vir haar studies te betaal sodat ek wel eendag net op my musiek kon konsentreer, wat nou die geval is.”

Doane is al vir 15 jaar getroud en het twee dogters van 13 en amper 3 jaar oud.

Liefde vir musiek

“Daar is geen beter gevoel om te weet dat wanneer jy daai verhoog betree en jy in jou zone is, dit wat jy gaan gee uit die hart uit is en dit wat volgende kom, is kos vir die siel. Elke keer wat ’n kunstenaar op ’n  verhoog klim, stort hy sy hart uit. Om dan aanvaarding te kry vir dit wat jy gee, dit waarvoor jy vir ure lank as tiener alleentyd gespandeer het, kom op daai oomblik bymekaar. So in een woord is dit ongelooflik. As ek dan kyk na als wat nou daar buite aangaan, hoop ek dat ek op my klein, onskuldige manier dalk bietjie verligting kan bring in die donker tyd.”

Waar sien hy homself oor vyf jaar?

“In ’n posisie om gemakliker met dit wat ek doen, dit waarvoor ek gemaak is, wat ek werklik voor lief is, vir my gesin te kan sorg. Om nie meer bekommerd te wees of ek genoeg gigs vir die maand sal hê om deur te kan kom nie. Dink so daaraan – as jy vir ’n vakleerling die vraag moet stel, sal hy sê hy sal graag ’n voorman wil wees of iets soos daai. Nou ek is nog nooit gesteld gewees daarop om bekend te wees nie, want dit pla my nie, maar ek wil net graag ’n volgende vlak in my loopbaan bereik.”

Iets wat ander nie weet nie

“Ek was my hele kinderlewe lank vas oortuig dat ek nie goed genoeg is nie en dit kom tot vandag toe nog soms deur wanneer ek stil sit en dink. Dan moet ek myself weer optel en die lewe in die gesig staar. Ek moet vir myself sê dis tyd om nou weer op te staan, mens laat nie toe dat die lewe jou onderkry nie.”

Indien jy vir Doane wil bespreek vir enige funksie, stuur ’n e-pos na: [email protected]