Inperking: Reëls en regulasies aangepas

Deel hierdie storie / Share this story

Op die sewende dag van inperking in SA het verskeie ministers van verskillende departemente die media ingelig oor spesifieke veranderings aan die nasionale regulasies wat vir hierdie tydperk geld.

Contact tracing & testing

“Die regering sal van nou af wanneer ’n persoon positief vir Covid-19 toets, toestemming verkry om die pasiënt se selfoonnommer te gebruik om ander moontlik geïnfekteerde persone op te spoor. Die GPS in jou selfoon word so gebruik om enige persone wat binne ’n vasgestelde tydraam in dieselfde omtrek as jy was en só die virus kon opdoen, op te spoor,” sê dr. Nkosazane Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, oor die contact tracing & testing van Covid-19-pasiënte in Suid-Afrika.

“Daar is ’n paar aanpassings gemaak aan die regulasies in verband met die opsporing van moontlik geïnfekteerde persone,” sê dr. Dlamini-Zuma. Volgens die minister is die grootste uitdaging om die persone wat moontlik aangesteek is, te toets en in isolasie te plaas. Wanneer die geïnfekteerde persoon min wetend rondbeweeg, steek hy ander met die virus aan. “Talle van die inligtingvorms van Covid-19-pasiënte is onvolledig ingevul. Dit maak dit baie moeilik om vas te stel wie almal intussen met die pasiënt in kontak was.”

“Selfone is iets wat baie persone byna altyd en oral saamdra. Die regering is ten volle bewus van elke burger se reg op privaatheid. Hierdie regulasie is nie in plek gestel om op enigiemand te spioeneer nie en die inligting sal uitsluitlik vir Covid-19-verwante doeleiendes gebruik word.”

Jy mag in ’n noodgeval reis

Minister Dlamini-Zuma het bevestig persone sal toegelaat word om te reis. “Indien dit ’n mediese of ander tipe noodgeval is, sal persone toegelaat word om van een plek na ’n ander te reis.”

As jy ’n permit nodig het om te reis, sê dr. Dlamini-Zuma, kan jy by jou naaste polisiehoofkantoor daarvoor vra.

Begrafnisse en social distancing

Sy het die kwessie van begrafnisse gedurende die inperking aangespreek. Sy sê daar sal onder geen omstandighede meer as 50 persone by ’n begrafnis toegelaat word nie. “Dié regulasies is nie ingestel om mense te straf nie, maar om die verspreiding van Covid-19 te probeer keer,” sê sy. “Kerkdienste is afgestel, omrede die virussiekte maklik tussen ’n groep mense versprei. ’n Begrafnis val in dieselfde afdeling as ’n kerkdiens.”

Daar is buitelanders wat na hul eie lande wil terugkeer en volgens minister Dlamini-Zuma sal die Suid-Afrikaanse regering dit toelaat.

Polisie, weermag en metropolisie ontplooi

Bheki Cele, minister van polisie, sê daar is 24 389 lede van die polisie, weermag, metropolisie en ander sekuriteitspersoneel regoor SA ontplooi. Hulle is op die uitkyk vir enigiemand wat inperkingsreëls en -regulasies verontagsaam. Cele sê daar is  2 289 Suid-Afrikaners, waarvan 290 in die Noord-Kaap, in hegtenis geneem omdat hulle dié regulasies verontagsaam het. Meeste gevalle was in verband met alkohol- of verkeersregulasies. “Almal behoort mekaar te respekteer,” sê hy oor die regulasies in sommige areas op persone afgedwing moet word.

Geen koop of verkoop van sigarette, sê minister

Cele sê ook die regulasies wat gevolg word, is slegs nasionaal. Hy verwys na die Wes-Kaap wat aangekondig het dat inwoners daar toegelaat sal word om sigarette te koop. “Geen provinsie mag aan die regulasies verander nie. Die regulasies word slegs deur die nasionale minister aan alle provinsies bekendgemaak. Vir nou is die koop en verkoop van sigarette taboe.”

Cele sê ook dat dit wat in gisteraand se inligtingsessie bespreek is, nie al is wat vir die inperkingsperiode geld nie. “Vanaand se inligtingsessie was slegs om die meeste onduidelikhede uit die weg te ruim,” sê hy. “Dit wat vanaand bespreek is, is nie al reëls en regulasies wat op die inperking van toepassing is nie.”