Dadelhappies – Resep

Deel hierdie storie / Share this story

(Maak sowat 50 balletjies/blokkies)

Bestanddele:

230 g (250 ml) botter, in blokkies gesny
200 g (250 ml) suiker
500 g dadels, fyn gesny
2 x 200 g-pakkies Marie-beskuitjies, fyngemaak
10 ml vanieljegeursel
Sowat 100 g fyn klapper

Metode:

Plaas die botter en suiker in ’n kastrol en smelt dit oor lae hitte tot die suiker heeltemal opgelos is. Voeg die dadels by en kook oor lae hitte tot die dadels sag is. Roer gereeld. Voeg die fyngemaakte Marie-beskuitjies en vanieljegeursel by. Roer alles goed deur.

Gebruik ’n 15 ml-maatlepel en skep van die vulsel in jou hand. Rol dit dan in ’n balletjie en daarna onmiddellik in klapper. As jy eerder blokkies wil maak, dan druk jy die mengsel vas in ’n gesmeerde rolkoekpan. Wanneer dit afgekoel het, sny dit in blokkies en rol in klapper.

Doen dit met die res van die dadelmengsel en bêre die blokkies of balletjies in lugdigte houers.

Resep: Lorinda de Klerk / Watertand Resepte vir Oud en Jonk