KIMBERLEY – ’n Bekommerde Kimberliet het foto’s op sy Facebook-profiel gedeel van iets wat lyk soos ’n sinkgat in Lerato Park, Galeshewe.
Die inwoner sê die sinkgat mag moontlik vir inwoners of kinders ’n gevaar wees. “Ek weet nie hoe gevaarlik die gat is en of dit eintlik onskadelik is nie,” sê hy onderaan die foto’s. Hy wil egter net hê inwoners van die area moet bewus wees van die moontlikheid van gevaar.
Sello Matsie, woordvoerder vir die Sol Plaatje-munisipaliteit, sê daar is geen rede vir Kimberliete om bekommerd te wees nie. Kimberley se geologiese uitleg is van so ’n aard dat sinkgate nie sommer een-een iewers sal voorkom nie, sê hy. Dit is nie die eerste keer dat die munisipaliteit navrae oor sinkgate ontvang nie. Daar was eens ’n myn in die area waar die foto’s geneem is, maar in 1974 het die myn reeds toegemaak.
Matsie sê die nooddienste sal ingelig bly oor die situasie en spoedig optree sou dit nodig wees.





