Hoor jy steeds die gedruis van vrees? Die vibrasie van angs, onsekerheid en moedeloosheid is om elke hoek en draai. Die nuus en media suis van nood. Jy ervaar dit in die doldriftigheid van ander in die winkels, tydens praatjies met naastes en in ’n negatiewe gesprek of twee, te veel, raak jy ook bekommerd.
Tydens ’n paar van dié voorvalle het ek ook sowaar my hart gekry om saam te stem. So het ek vrees toegelaat om in te kruip. Die rippel-effek van bekommernis het my emosies op haas gehad en ek het ’n aand of twee lank gelê en wonder. Ek dank ons Koning Jesus vir my getroue Helper, Heilige Gees, wat my kom herinner het hoe een van my helde in die Bybel, David, iets soortgelyk ervaar het, maar anders gereageer het:
“Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie!
Israel moet getuig: “Aan sy liefde is daar geen einde nie.”
…Dié wat die Here dien, moet getuig: “Aan sy liefde is daar geen einde nie.”
In my nood het ek na die Here geroep, die Here het my gebed verhoor en my bevry. Die Here is by my, ek ken geen vrees nie…
Nasies het van alle kante af op my afgestorm… Hulle het my omsingel, my van alle kante bestorm… Hulle het soos ‘n swerm bye om my gepak, maar hulle het verdwyn soos doringtakke in ’n vuur. In die Naam van die Here het ek hulle aanval afgeslaan.” (PSALMS 118:1-6, 10-12 )
Dawid verklaar oor en oor in dié Psalm sy openbaring van God se liefde en goedheid. Dit was ’n feit dat hy omsingel was. Hy kon ‘n hele paar redes hê om bang te wees, ‘nasies het van alle kante af op hom af gestorm’!?
Dawid se simboliese vergelyking van probleme as bye het vir my die meeste openbaring gegee oor hoe om vrees of ander uitdagings te hanteer. Almal wat al in ’n ervaring was met ’n Afrika-heuning by, ken sy geluid goed en weet dat as jy in reaksie is teenoor hom, jy óf gesteek word of hy roep sy maats en sodoende raak jou probleme meer.
Die vibrasie van vrees se vlerke is ’n feit, Covid-19 is ‘n FEIT maar kies vandag om in ’n proses te gaan waar jy in die intieme teenwoordigheid van Vader God die OPENBARING ontvang van sy goedheid en liefde!
Tragedie, krisis of vrees onthul twee goed: 1. Waar jy met God staan 2. Hoe goed God is.
In die woorde van Jesus “…In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin.” (JOHANNES 16:33 AFR83)
Daar is geen belofte dat jy nie uitdagings of verdrukking sal kry nie, maar weet dat dit nie God is wat dit gee nie.
“Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet…” (ROMEINE 8:28)
Hy laat selfs die slegste gebeurtenis uitdraai in iets goed. Hy laat dit so goed uitdraai dat jy gaan dink dis hy wat die sleg gee.
God is beter as wat jy dink, so verander die manier wat jy dink deur Hom toe te laat om jou te deurdrenk met sy liefde.
“Waar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf vrees, want vrees verwag straf, en wie nog vrees, het nie volmaakte liefde nie.” (1 JOHANNES 4:18)
Nou is ’n goeie tyd om die waarheid soos Dawid te verklaar en stil te word en te fokus op hoe baie ons Vader werklik omgee.
“Die Here is my krag en my beskerming. Dit is Hy wat my gered het!
U is my God, U wil ek loof; my God, u grootheid wil ek besing. Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie”
Psalm 118: 14, 28-29
-Reshelle Smith



