DURBAN – Huldeblyke stroom van regoor die wêreld in ná Gita Ramjee, die wêreldbekende Suid-Afrikaanse wetenskaplike, aan Covid-19-verwante komplikasies gesterf het.
Gavin Churchyard, ’n vriend en kollega, het aan die BBC gesê: “Sy het haar lewe toegewy om oplossings vir MIV-voorkoming vir vroue te vind.”
Winnie Byanyima, hoof van die UNAids, sê prof. Ramjee se dood is ’n groot verlies in die tyd wanneer die wêreld haar die nodigste gehad het.
Suid-Afrika het die grootste aantal mense ter wêreld wat met MIV leef.
Die MIV-navorser is internasionaal erken vir haar werk en het ’n ereprofessorskap aan die London School of Hygiene and Tropical Medicine, die Universiteit van Washington en die Universiteit van Kaapstad gehad.
Twee jaar gelede is sy bekroon met die Uitstaande Vroulike Wetenskaplike-toekenning deur die European Development Clinical Trials Partnerships.
Sy het daarna aan die HIV Trials Network gesê: “Ek was absoluut opgewonde oor hierdie toekenning, want dit erken dekades van my verbintenis tot kliniese navorsingsaktiwiteite in MIV-voorkoming. Wat dit meer lonend maak, is dat ek nou saam met die sterkste vroue staan.”



