Hou só kop gedurende inperking

Deel hierdie storie / Share this story

Jou jongste pluk met ’n taai hand aan jou broekspyp. Die hoofpyn van die afgelope paar uur raak net erger. Jy probeer terselfdertyd aan jou vierjarige verduidelik hoekom sy nie die handreiniger mag drink nie en jou oudste skakel die TV se volume harder en harder. Voel dit asof jy jou kop verloor by die huis? Lê die volgende 15 dae soos ’n berg voor jou?

FiND iT praat met Marina van den Heever, inwoner van Kimberley en kenner in leierskapontwikkeling, oor hoe om gedurende die inperkingsperiode steeds na jou geestelike welstand om te sien.

Van den Heever reken die inperking, reëls en regulasies wat soveel Suid-Afrikaners nou moet hanteer, is vir baie ’n groot uitdaging.

Hieronder is ’n paar wenke wat jou kan help beter voel tydens hierdie moeilike tydperk.

  1. Bly in kontak met jou vriende en familie deur jou selfoon en sosiale media. Deel egter net inligting van betroubare bronne met mekaar oor die korona-krisis. Mens kan nie al die stories wat gereeld die rondte doen, glo nie.
  2. Help iemand anders om te cope. Bied ondersteuning vir jou vriende wat ook bekommerd is en dalk swaarkry, en bel iemand wat jy weet alleen bly en miskien by ’n bietjie geselskap kan baat. Deur iemand anders te help, help jy dikwels ook jouself.
  3. As jy met mense gesels wat ook bekommerd en angstig is, deel die angs en bekommernis vir ’n paar minute. Praat daaroor en verander dan die onderwerp in enigiets meer positief om oor te gesels. In Engels sê hulle: “Share for a couple of minutes the bad news, and then move on.”
  4. Daar is deesdae geweldig baie nuus oor die koronavirus, inperking en die wêreldwye impak op mense en ekonomieë. As jy vind dat jy baie nuus kyk of luister en as gevolg daarvan angstig begin voel, vind ’n beter balans. Dis belangrik om op hoogte te bly, maar stel vir jouself reëls op. Kies net twee keer in jou dag om ’n halfuur lank na nuus te luister of te lees.
  5. As jy ’n tuin het, maak seker dat jy tyd daarin deurbring. Kyk na die bome se blare, hoe dit lyk en hoe dit ruik. Fokus net daarop en op niks anders nie. Vir daai rukkie konsentreer jy net op ’n blaartjie of blommetjie of enigiets anders wat vir jou voel asof dit balans in jou gedagtes bring. Fokus, laat rus jou brein en gemoed. Kyk of jy elke dag ’n bietjie langer op een ding kan fokus. Wees meer bewus van iets mooi of spesiaal.
  6. Dis natuurlik ook belangrik om tegnieke om spanning te verminder, toe te pas. Luister na Joseph Clough se selfhipnose-opnames. Laai die toep op jou selfoon af en probeer dit gerus. Daar is ’n verskeidenheid afdelings soos selfvertroue, hartseer, ontspanning en geluk.
  7. Struktureer jou dag met roetine en realistiese doelwitte van wat jy vir die dag wil bereik. As jy van die huis af werk, sit ’n sekere hoeveelheid tyd daarvoor opsy en wanneer die tyd om is, sit jou rekenaar af.
  8. Fokus eerder op die onmiddellike, dit waarmee jy in die oomblik besig is. Moenie te veel oor môre dink nie. Wanneer jy aan môre dink, dink aan wanneer hierdie onseker tydperk verby sal wees. Niks bly ooit dieselfde nie en this too shall pass.
  9. Dan natuurlik die basiese fondasie van jou leefwyse. Eet jy gesond en gereeld? Bly jy aktief?
  10. Stel vas hoe jy onder normale omstandighede die spanning sou hanteer. Begin dan nou ook om daardie vaardighede in jou lewe te implementeer.
  11. ’n Visualiseringsoefening wat baie kan help vir jou gemoed, is om te dink aan jou safe place. Waar jy voel jy regtig uitermate gelukkig en veilig is. Vir my is dit om saam met my gesin in die Drakensberge te loop. Ek voel die son op my gesig, ek ruik die proteas, ek voel hoe my liggaam op die stramheid in my bene reageer en ek hoor my gesin se stemme. Maak jou oë toe en probeer jouself in daardie oomblik inleef. Maak die ervaring vir jouself so na as moontlik aan die ware Jakob.

Miskien is van hierdie dinge reeds deel van jou alledaagse lewe. Die kans is groot dat deur hierdie paar oefeninge en wenke in jou lewe in te bring, jy regtig van die spanning en kommer ontslae kan raak.