Matriekjaar in isolasie

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY – Matriekleerlinge van regoor Suid-Afrika lê saans en rondrol weens die korona-pandemie wat Suid-Afrika te midde van hulle laaste skooljaar getref het.

FiND iT gesels met Tiaan Erasmus (17) en Johané van Aswegen (17), hoofseun en hoofdogter van Hoërskool Adamantia in Kimberley, oor hoe hulle die inperking ervaar en hoe hulle beplan om as matriekleerlinge hul laaste skooljaar te voltooi.

Volgens Erasmus het die skool aan die einde van die eerste kwartaal vir die leerlinge die werk gegee wat hulle in die tweede kwartaal sou behandel. Erasmus sê hulle opdrag was om deur elke vak se werkstukke te gaan. Die skool sal sodra hulle weer oopmaak, die werk saam met die leerlinge hersien. “Gelukkig is ek bevoorreg om YouTube-video’s te kan kyk wanneer ek iets nie verstaan nie,” sê hy. “Ek het kontak met ’n paar van my onderwysers en vra hulle wanneer ek iets nie verstaan nie.”

Van Aswegen sê sy voel angsbevange as sy dink aan die hope werk waardeur sy moet gaan. Veral vakke soos Fisiese Wetenskappe is vir haar ’n groot bekommernis. “Ons kon meeste van die leerlinge in die verskillende klasse se selfoonnommers bymekaarmaak. Ons het WhatsApp-groepies gestig waar ons onderwysers vir ons inligtingstukke, ou vraestelle, skakels na webtuistes en YouTube-video’s aanstuur,” sê sy ietwat verlig.

Erasmus voel rustig oor die eksamen wat vir hulle voorlê. Hy is dankbaar vir sy onderwysers. “Ons skool het wonderlike onderwysers wat uit hulle pad sal gaan om ons te help in die kort tydjie wat ons gaan hê om finaal vir die eksamen voor te berei.”

“Ek weet nie of ek myself so goed kan leer soos wat ’n onderwyser kan nie. Ek voel ook jammer vir die leerlinge wat nie toegang tot die internet het nie en heeltemal op hul eie deur die werk moet gaan,” deel Van Aswegen haar kommer oor die eksamen.

Hoërskool Adamantia se matriekafskeid sou in April plaasvind, maar is na September uitgestel. Beide die leerlinge sê dit was vir hulle vreeslik toe die afskeid ’n dag voor dit sou plaasvind, uitgestel is. Altwee is egter bly dat dit uitgestel en nie afgestel is nie.

Die twee leerlinge verlang altwee na hul vriende en die tye by die skool. Van Aswegen sê sy voel byna soos wat sy teen die einde van ’n vakansie voel. “Ek voel altyd ek wil nou weer teruggaan skool toe om weer my vriende om my te hê.”

Foto: Van links, Kayla Oosthuizen, Johané van Aswegen, Tiaan Erasmus en Ghunter Brits.