Inperking – vakansie vir jou vel

Deel hierdie storie / Share this story

Die onderwerp van grimering is anders vir elke vrou. Sommige mense hou daarvan en sien dit as ’n manier om hul voorkoms te verbeter, terwyl ander eerder dié skoonheidsonderwerp heeltemal wil vermy.

As jy een van die vroue is wat van grimering hou of self noodgedwonge elke dag moet grimering dra, is hierdie die perfekte geleentheid om jou gesig ’n grimeringvakansie te gee.

Jou porieë sal krimp

Porieë is die klein openinge op die oppervlak van ons vel wat lug en vloeistowwe deurlaat.

As jy grimering aansit, absorbeer jou porieë dit. Daar kom ’n buitengewone lang lys bestanddele in grimering voor wat kan veroorsaak dat jou porieë verstop.

As jou porieë verstop, word dit groter om die oppervlakte vir opname te verhoog. As jy ophou om grimering te dra, gee dit jou porieë die kans om terug te keer na hul natuurlike toestand.

Jou vel sal verbeter

Soos bo genoem, kan grimering jou porieë verstop en dit groter en meer sigbaar maak.

Die gebruik van grimering, veral die verkeerde tipe, kan ook simptome van aknee veroorsaak of selfs vererger.

Alhoewel mens grimering wil gebruik om jou onvolmaakthede weg te steek, kan dit dit eerder vererger.

Minder ooginfeksies

Maskara doen meer as om net jou wimpers te laat langer lyk. Ongelukkig bevat die meeste ooggrimering preserveermiddels wat konjunktivitis, sowel as ander oogallergieë wat ’n hele paar ongemaklike simptome het soos rooiheid, swelling, droogheid en jeukerigheid, kan veroorsaak. Kieme kan ook versprei deur grimering te deel.

Geen droë vel

Grimering mors met die natuurlike selvernuwingsproses van ons vel, veral saans wanneer ons te moeg is om die grimering van ons gesigte af te was. Geen grimering beteken geen nare, kieme of oorskot wat agterbly om die vorming van nuwe selle te onderbreek nie. Jou vel is natuurlik meer bevog as jy nie grimering hoef af te was nie.

Verminder plooie

Die grimering wat jy gebruik om plooie weg te steek, kan dit dalk net vererger. Deur die dag neig grimering om in fyn lyntjies en plooie te gaan vassit, wat eintlik net die kollig laat skyn op die tekens van veroudering wat mens probeer wegsteek.