Covid-19: Vyfde sterfte in SA

Deel hierdie storie / Share this story

Dr. Zwelini Mkhize, minister van gesondheid, het pas op sy Twitter-profiel bekendgemaak dat vyf persone in Suid-Afrika reeds weens Covid-19 oorlede is.

Volgens dr. Zwelini Mkhize was die eerste sterfte ’n 48-jarige vrou van die Wes-Kaap. Sy het aan ’n onderliggende siekte gely.

Die tweede sterfte was ’n 85-jarige man van die Vrystaat. Hy was een van die persone wat die kerkkonferensie in Bloemfontein bygewoon het.

Die derde sterfte was in Gauteng. Die man het van Kaapstad na die Krugersdorp-omgewing in Gauteng gereis.

Twee van die sterftes was in KwaZulu-Natal. Die een was ’n 74-jarige man van Ladysmith en die ander ’n 46-jarige vrou wat aan asma gely het.

Dr. Mkhize spreek ook die masker-kwessie aan. Hy sê daar behoort geen onduidelikheid te wees oor die gebruik van maskers nie. Hy sê om ’n masker te dra, is steeds die mees effektiewe manier om die verspreiding van die virus hok te slaan. “As ’n persoon hoes of enige simptome van die virus toon, behoort hy of sy sonder enige twyfel ’n masker te dra,” sê die minister van gesondheid.