KIMBERLEY – FiND iT gesels met Chené Brits (24), ’n ontvangsdame by een van die hospitale in Kimberley se ongevalle-eenhede, oor die belangrikheid van haar pos as mediese werker in hierdie moeilike tyd.
Brits is ’n mamma van ’n tweejarige, ’n tipe 1-diabeet en moet gedurende hierdie tydperk van inperking steeds werk.
“Dit is maar ’n verskriklike moeilike tyd waarin ons moet werk. Ek val onder die hoërisikogroep en ek bly bang en onseker. As my tweejarige siekerig raak, wonder ek of ek nie miskien ’n kiem van die hospitaal af huis toe gebring het nie. Toe ek egter by die hospitaal begin werk het, het ek geweet waarvoor ek myself inlaat.”
Volgens Brits het die hoofkantore van die hospitaal waar sy werk besluit om nie die admin-personeel te verplig om maskers en handskoene te dra nie.
“Die virus klou maar aan die handskoene, so as ons handskoene sou dra, sou ons die hele tyd nuwes moes aantrek. Wanneer jy die handskoene aanhet, was jy nie jou hande nie en bly die kiem dus versprei soos wat jy aan goed vat,” sê Brits. Volgens Brits dra hulle ook nie maskers nie, omrede die maskers jou gesig irriteer en jy dan konstant aan jou gesig vat.
“Ons was en saniteer gereeld ons hande en saniteer ook ons handsakke voordat ons huis toe gaan om te keer dat ons nie kieme huis toe neem nie,” sê sy.
“Wat belangrik is om te onthou, is dat daar steeds in hierdie inperkingstydperk persone seerkry of ander mediese hulp nodig het. Dis waarvoor ons hier is. Ons kan nie selfsugtig wees en by die huis bly terwyl mense ons hulp nodig het nie.”
Brits vertel ook hoe dit sou werk as ’n familielid van jou weens Covid-19 in die hospitaal opgeneem sou word. Sy sê die pasiënte wat opgeneem word, word in die hoësorgeenheid opgeneem. Daar word geen selfone toegelaat nie. Die verpleegsters en dokters sal aan die familie se woordvoerder alle inligting ten opsigte van die pasiënt se toestand oordra. Daar word slegs tussen 15:00 en 16:00 een besoeker per pasiënt toegelaat.
“Ek dink nie almal neem hierdie inperkingstydperk ernstig genoeg op nie. Almal staan bo-op mekaar voor inkopiesentrums en banke. Dis juis dan wanneer die virus versprei. Jy weet nie wie hoes of nies dalk op jou en steek jou aan nie. Covid-19 is ’n wêreldwye pandemie en ons as Suid-Afrikaners behoort saam te staan en die verspreiding hiervan stop te sit voordat dit te laat is. Bly in jou huis en gaan uit net wanneer dit regtig nodig is. Was gereeld jou hande en beskerm jouself en jou gesin so ver as wat jy kan.”



