Inperking: My ma in die ouetehuis

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY – Baie ouer persone is weens Covid-19 en die inperkingstydperk vir die volgende 21 dae in aftree-oorde vasgekeer. Derick Saaiman, wie se ma (87) in ’n tehuis in Bloemfontein bly, vertel hoe hy en sy suster gereeld hulle ma kon besoek, maar hoe sy ma nou sukkel om te verstaan waarom hulle nie meer kan kom inloer nie.

Saaiman woon in Kimberley en vertel hoe hy een keer per maand by sy ma in Bloemfontein kon gaan kuier. “My suster woon in Bloemfontein en sy kon meer gereeld by my ma gaan inloer. My ma sukkel nou egter om te verstaan waarom ons nie vinnig kan kom inloer en hoor hoe dit gaan nie. Ek weet ook nie hoe om die situasie aan haar te verduidelik nie.”

Saaiman sê hy het voor die inperkingstydperk vir sy ma dinge soos toiletware, beskuit, lekkers en koeldrank geneem. “Aan die begin kon ons pakkies opmaak en dit by die ontvangs van die oord aflaai. Nou word geeneen van ons naby die tehuis toegelaat nie.”

Volgens Saaiman kan hy en sy ma gelukkig nog telefonies kommunikeer. “Sy klink goed. Sy sukkel net om te verstaan waarom ons nie meer kan kom kuier nie.”

Saaiman sê die aftreeoord het aan die begin van die uitbraak in Suid-Afrika aan al die inwoners vitamiene-pille gegee. Hy sê hy voel gerusgestel oor sy ma se veiligheid en haar welstand. “Ek is baie gelukkig dat daar so goed na my ma omgesien word. Nie baie persone is so bevoorreg nie. Ek is baie dankbaar vir die tehuis waarin sy kan wees.”