Pasiënt glo getoets vir Covid-19 sterf in privaathospitaal

Geverifieerde inligting

KIMBERLEY – ’n Pasiënt aan die Royal Hospital and Heart Centre in Kimberley is gister oorlede.

Die pasiënt was volgens Hector Mckay, hoof van die Royal Hospital and Heart Centre, gister in ’n slegte respiratoriese toestand in die ongevalle-eenheid opgeneem. Weens die pasiënt se toestand het die hospitaalpersoneel besluit om die pasiënt vir Covid-19 te laat toets. Na verskeie pogings om in te gryp, is die pasiënt later die dag oorlede. Die pasiënt se toetsuitslae is egter nog nie bekend nie.

McKay sê die nasionale instituut vir oordraagbare siektes se riglyne is nagekom gedurende die pasiënt se behandeling.  

“Daar is stappe geneem om die veiligheid van hospitaalpersoneel, pasiënte, dokters en die gemeenskap te verseker. Die personeel wat met die pasiënt in kontak was en moontlik aan die virus blootgestel is, word tans onder kwarantyn gehou.”

Die ongevalle-eenheid by die hospitaal is ontsmet en McKay wil almal verseker dat geen pasiënte aan die virus blootgestel is nie.

“Wees asseblief gerusgestel en weet dat die veiligheid van pasiënte, werknemers, dokters en gemeenskapslede vir ons belangrik is. Die personeel en die fasiliteite by die hospitaal is toegerus om die virus te kan hanteer.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: