Tuisonderrigsentrum sluit en kinders moet graad herhaal

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY – Ouers is woedend nadat die eienaar van ’n aanlyn-tuisonderrigsentrum in Kimberley gesluit en na George verhuis het.

Ouers het met FiND iT gesels. Een van die ouers sê 14 kinders was van die sentrum afhanklik. 

Sommige ouers het glo nog nie hulle kinders se rapporte ontvang nie. Die ouers sê verder: “Die ouers wat dit wel gekry het, is vals rapporte gegee.”

“Ek het vir haar depositogeld betaal, maar sy het nooit ons kind herregistreer nie,” verduidelik sy.

Ouers soek antwoorde

Nog ’n ouer het ’n inskrywing op Facebook geplaas. Sy sê: “Jy los al ons ouers in Kimberley sonder antwoorde. Jy het almal se geld gevat en nou moet kinders weer hul grade oordoen, omdat jou rapporte nie geldig is nie. Jy het ons almal oortuig ons kinders sal goed doen by jou aanlyn-skool, maar jy het die verkeerde mammas se gelde gesteel en met ons kinders se toekoms gespeel.”

“Sy het na George verhuis. Dis hoekom ek haar nou oral opsit. Sodat sy nie waar sy nou gaan bly haar skool daar adverteer nie. Sy het genoeg skade vir baie ouers in Kimberley veroorsaak,” sê die ouer.

Hartseer storie

“Nee niemand weet van haar nie, want sy doen niks op die regte manier nie. Ek so spyt ek het agt maande gelede haar advertensie op Facebook gesien. Nou moet ons ons kinders ondersteun en moed in praat om weer die selfde graad as laas jaar te face. Dit is vir my ’n baie hartseer storie,” sluit sy af.

Lehuma Ntuane, woordvoerder van die onderwysdepartement, het bevestig die onderrigsentrum nie by die departement geregistreer is nie.

Die eienaar sê sy het vooraf reëlings getref sy gaan verhuis.

Ouers word gemaan om vooraf met die department te bevestig of die onderriginstansie waarby hulle hulle kinders by inskryf, geregistreer is.