KIMBERLEY – Prokureurs wat van laas jaar af geen betaling vanaf Legal-Aid vir vervoer, akkommodasie en voedsel ontvang het nie, het betaling op 20 Maart 2020 ontvang.
’n Saak waarin agt verdagtes aangekla word van moord, is in die Kimberley hooggeregshof tot 18 Mei 2020 uitgestel sodat die wanbetaling reggestel kan word.
Mr. Ntlisane, uitvoerende hoof van Legal-Aid Kimberley, het Donderdag 19 Maart in die hof bevestig daar is wel ’n agterstand in betalings weens ’n nuwe sisteem wat geïmplementeer is. Ntlisane het gesê Legal-Aid ervaar al vanaf Oktober 2019 probleme met hulle sisteem. Ntlisane het voortgegaan om te sê betalings word onder normale omstandighede binne dertig dae gedoen.
Kenny Pretorius, ’n regsverteenwoordiger en een van die prokureurs wat vanaf Oktober verlede jaar nie betaling ontvang het nie, het aan FiND iT bevestig hy het betaling op 20 Maart 2020 ontvang.



