REGSTELLING. – FiND iT het gister verkeerdelik ‘n opskrif geplaas: “60-jarige boer op sy plaas vermoor”, met die persverklaring vanaf die polisie aangeheg.
Die boer is nié vermoor nie en sterk in die hospitaal aan.
Die boer is gister op sy plaas op Niekerkshoop deur ses verdagtes oorval.
Brig. Mohale Ramatsheba, polisiewoordvoerder, sê die boer is met ‘n strykyster op sy maag gebrand. Die verdagtes het in sy eenkajuit Toyota-bakkie gevlug. Die bakkie is ongeveer 15km buite Griekwastad, op pad na Groblershoop, gekry.
Die boer ontvang mediese behandeling in die hospitaal.
Enigiemand met inligting, kan kapt. Paul Goliath, stasiebevelvoerder van Niekerkshoop, by 082 448 6910 of ao. Godffrey Kubashe, die ondersoekbeampte, by 082 448 6572 kontak. Alle inligting sal konfidensieel hanteer word.
Lt. gnrl. Risimati Peter Shivuri, die provinsiale kommissaris van die polisie in die Noord-Kaap, sê misdadigers kan nie toegelaat word om die plaasgemeenskap te bedreig nie. “Die polisie sal geen moeite spaar om die kriminele vas te trek nie.”
*FiND iT vra om verskoning vir die verkeerdelike opskrif en die verwarring wat dit veroorsaak het.



