KIMBERLEY – Almal is wêreldwyd bewus van die Covid-19 virus wat die mensdom bedreig. Cell C North Cape Mall en Cell C New Park neem die inisiatief om sy werknemers en ook sy kliënte teen die moontlike verspreiding van die virus te beskerm.
Alvandrè Louw, areabestuurder van Verbiplex en Cell C, sê die werknemers by Cell C is goed ingelig van die hoë aansteeklikheid van Covid-19 en hoe om voorsorgmaatreëls te tref aangesien hulle heeldag met kliënte werk. “Dit is ’n pandemie wat ons nie kan keer nie, maar ons kan die verspreiding van die virus beperk.”
Louw sê Cell C gee om vir hul kliënte. “Ons wil graag hê ons kliënte moet weet hul gesondheid is vir ons belangrik. Daarom het ons die inisiatief geneem om handreiniger (hand sanitiser) vir al ons konsultante aan te skaf. Die konsultante sowel as die kliënt is welkom om die handreiniger te gebruik.”
Die konsultante is ook ingestel op higiëne en was gereeld hul hande met antiseptiese seep. “Ons kan die basiese maatreëls volg om die verspreiding van Covid-19 te bekamp. Ons wil graag ons kliënte en ook ons werknemers beskerm.”
Louw sê Cell C se werkers doen alles in hul vermoë om higiëne te handhaaf. “Cell C verwelkom graag hul kliënte by die onderskeie takke deur die gebruik van handreiniger aan te bied. Dit sal beide die werknemers en ook die kliënte ’n bietjie gemoedsrus in ’n paniekbevange wêreld gee.”



