10 Idees om kinders besig te hou die vakansie

Deel hierdie storie / Share this story

Met die vakansie wat vinniger op ons is en nou ook sommer langer aanhou, mag dit dalk moeilik wees om kinders besig te hou. Hier is ’n paar idees om jou kinders die vakansie besig te hou.

Maak jou eie speletjies

Kry ’n voorraad gekleurde kaarte, skêre vir kinders, gom en enigiets anders wat jy gaan nodig hê om ’n  paar prettige speletjies te maak. Speletjies soos Hoopla, Pin the Tail on the donkie of Snakes and ladders kan maklik tuis gemaak word en dit sal die kinders lank besig hou.

Kook en bak

Beplan een keer per week ’n kook- of bakdag. Betrek die kinders van die begin af by die proses – laat hulle kies uit ’n verskeidenheid resepte waarvoor jy bestanddele het. As die kind kan lees, laat hulle dit uit die resepteboek lees. Help hulle stap vir stap om die instruksies deur te werk. Probeer die versoeking vermy om dit self te doen.

Maak ’n hindernisbaan

Maak ’n hindernisbaan in die agtertuin. Ou stukke hout, bokse, emmers, tuinstoele – alles wat oor, onder of rondom gespring kan word. Sê vir die kinders om mekaar se tyd te neem rondom die hindernisbaan. Die baan kan voltooi word op ’n fiets, skaatsplank of bloot deur te hardloop.

Plant ’n tuintjie

Gee ’n klein stukkie van die tuin vir die kinders. Plant blomme, kruie, blaarslaai – alles wat vinnig groei en die bevrediging gee dat hulle sukses behaal het.

Gaan kamp

Bou ’n tent binne of buite met komberse en lakens. Sodra die tent opgeslaan is, gee hulle ’n flitslig en ’n piekniekmandjie om saam te neem.

Hou ’n skattejag

Maak ’n skatkaart met leidrade om ’n skat te vind wat jy êrens in die tuin weggesteek het. Dit hoef nie duur of groot te wees nie – enige klein skat sal opwindend wees as dit buite gevind word.

Maak musiek

Gryp ’n paar musiekinstrumente – dinge soos bongo’s, gonsers of tamboeryne en maak musiek. Laat jou kinders saam sing en dans.

Stap in die natuur

Onderneem wandelings in die natuur. Versamel skulpe en klippe op die strand om later ’n dopkasteel  en klipbeeldhouwerke te maak. Laat kinders verskillende soorte goggas, plante of bome in die bos soek. Gee hulle alternatiewelik ’n kaart om die roete wat julle volg, te teken. Deur hulle beheer te gee, sal die plan verseker dat hulle nie te vinnig verveeld raak nie.

Hou ’n motorhuisverkoping

Laat die kinders hul kamers skoonmaak en ’n motorhuisverkoping hou. Sit al die geld saam en gebruik dit om te betaal vir ’n uitstappie vir die hele gesin.

Hou ’n  rusdag

Met al die aktiwiteite wat beplan word, sal kinders ook tyd nodig hê om te rus. Maak seker dat jy ’n paar dae beplan waartydens julle net kan ontspan, na films kyk, boeke lees en rustig wees.