President Cyril Ramaphosa het die nasie gister 15 Maart 2020 toegespreek oor die korona-pandemie wat in Suid-Afrika uitgebreek het.
Volgens president Ramaphosa is daar tot op hede 61 Suid-Afrikaners met die virus gediagnoseer. Hy sê die aantal gevalle sal na verwagting oor die volgende paar dae meer word. Die wêreldgesondheidsorganisasie het die korona-uitbraak as ‘n nasionale pandemie verklaar. Daar is huidiglik meer as 162 000 persone regoor die wêreld wat positief vir die virus getoets het.
“Met die skaal en die spoed waarteen hierdie virus versprei, is dit nou duidelik dat geen land immuun is teen hierdie virus of die impak daarvan nie.”
Die maatreëls wat in SA geïmplementeer sal word
Die korona-uitbraak word as ’n nasionale ramp verklaar in terme van die wet op rampbestuur. Hierdie situasie verg dat ernstige en drastiese maatreëls in plek gestel word om die uitbraak te voorkom en te verminder. Vlugte na en van hoërisiko lande soos Italië, Iran, Suid-Korea, Spanje, Duitsland, Amerika en China word van 18 Maart 2020 stopgesit. Suid-Afrikaanse burgers word ernstig versoek om geensins na of deur hoërisiko lande te reis nie. Enige Suid-Afrikaanse burgers wat onlangs na enigeen van hierdie hoërisiko lande gereis het, sal onderhewig aan toetsing, self-isolasie of kwarantyn wees.
Persone wat op vlugte na en van mediumrisiko lande soos Portugal, Hong Kong en Singapoer was, sal vereis word om deeglikse skanderingsprosesse te ondergaan.
Persone wat na Suid-Afrika teruggekeer het na ’n reis na of van enige van die hoërisiko lande, sal dadelik op die lughawe getoets word vir die virus.
35 van die land se 53 toegangspoorte sal van Maandag 16 Maart ontoeganklik wees. Twee van die agt seepoorte sal vir toeriste gesluit wees.
Volgens president Ramaphosa is die beste manier om nou teen hierdie virus te veg, om kontak tussen groepe mense totaal en al te vermy.
Groot byeenkomstes en feesvieringe van dae soos Menseregtedag en ander openbare vakansiedae is gekanselleer.
Alle skole sal sluit van Woensdag 18 Maart tot na Paasnaweek.
Sosiale en gemeenskapsbyeenkomste van meer as 100 mense sal nie toegelaat word nie.
Alle besoeke aan Korrektiewe Dienste sal vir 30 dae nie toegelaat word nie.
Die student aan die Universiteit van Witwatersrand wat positief getoets het vir die koronavirus, is tans onder kwarantyn. President Ramaphosa sê almal met wie hierdie student in aanraking was, word tans opgespoor en sal ook onder kwarantyn geplaas word.
Daar word ’n ernstige beroep gedoen op alle besighede, banke, universiteite, die parlement, inkopiesentrums, vermaaksentrums en tronke om ernstige higiënebeheer te begin uitoefen.
President Ramaphosa sê die regering se toesig- en toetssisteme sal drasties versterk word. Die kapasiteit van die aangewese hospitale vir die behandeling van die virus in elke provinsie sal vergroot word.
Volgens president Ramaphosa sal daar saam met die privaatsektor ’n nasionale kontak- en opsporingsspan saamgestel word.
Die president doen ’n beroep op almal om hulle manier van dinge doen, te verander.
“Was jou hande gereeld met warm water en seep vir ten minste 20 sekondes. Hou jou mond en jou neus met ’n sneesdoekie toe wanneer jy hoes of nies of gebruik jou elmboog om oor jou neus of mond te hou. Vermy enige nabye kontak met enige persoon wat verkoue- of griepsimptome toon. Vermy fisiese kontak soos handdrukke en soene, en groet mekaar eerder met die elmboog.”
Verder wens die president vir dr. Zwelini Mkhize, minister van gesondheid, en die ondersteuningspanne geluk met die afgelope ruk wat hulle die land deur hierdie krisis gedra het.
“Die Suid-Afrikaanse weermag sal van nou af drie keer per week vergader om die noodreaksieplan te bespreek.”
Verder sê president Ramaphosa dat dié pandemie ’n groot impak op Suid-Afrikaanse burgers se gesondheid, welstand en die gemeenskap se daaglikse lewe sal hê. Die land se ekonomie sal ook deur die virus geaffekteer word. Daar is in die laaste paar weke ’n dramatiese vermindering in ekonomiese aktiwiteite. Die mark vir internasionale toerisme het ook drasties verminder.
Hierdie virus kan volgens president Ramaphosa ’n reuse-impak op produksie, besighede en werkskepping hê.
“Ons moet almal nou saamstaan en diegene wat wel met die virus gediagnoseer word, ondersteun en help om die nodige behandeling te ontvang.
“Die grootste gevaar tans is vrees en onkunde oor hierdie virus. Ons kan nie toelaat dat ons oorweldig word deur vrees en paniek nie.”
Verder rig president Ramaphosa ’n ernstige versoek aan persone om nie vals nuus te versprei nie.
“Ons is nie hulpeloos nie. Ons het die hulpbronne, kundiges, kennis en die Wêreldgesondheidsorganisasie wat saam met ons werk. As ons vinnig en flink reageer, kan ons hierdie pandemie gebruik om nader aan mekaar te kom.”



