Seun op skool se dak gevang

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY – ’n Seun is gisteraand op Laerskool Diamantveld se dak gevang. Na bewering is die seun deur twee mans gestuur om die skool se dakplate los te maak.

Die seun is gisteraand deur Scorp Security se wagte gewaar nadat hy na bewering van die dak afgeklim het.

Wickus Coetzee, eienaar van Scorp, sê die seun het aan die wagte gesê hy is sewe jaar oud, maar dit is later by die polisiekantoor bevestig hy is eintlik 12 jaar oud. Die seun het eers beweer hy het sy bal op die dak gaan soek.

Na bewering is dit nie die eerste keer dat daar by die skool se dak gepeuter is nie. Volgens Coetzee is daar die vorige aand reeds dakplate losgemaak.

Die seun het die name bevestig van die mans wat hom vergesel het, maar die saak word nog ondersoek. Coetzee sê die polisie is gebel en die saak sal verder deur die polisie hanteer word.