Inbreker met panga gewapen

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY – Natassia Wong (70), inwoner van Monumenthoogte in Kimberley, is gister deur ’n inbreker met ’n panga in haar huis voorgekeer.

“My man het so 06:30 by die huis gery. Ek was in die kamer besig en ewe skielik het ek net ‘n man met ‘n panga voor my sien staan!” vertel Wong.

Wong se man was gisteroggend skaars by die hek uit, toe ‘n inbreker oor die muur van haar huis gespring het. Sy het eers gedink dis miskien haar seun, maar toe sy ordentlik na die man kyk, het sy besef dis ’n inbreker.

“Ek het die hele tyd my hande voor my nek gehou. Ek kon my oë nie van die panga in sy hand afhou nie. Ek het gedink hy gaan my doodmaak. Ek het vir hom gesê hy kan vat net wat hy wil hê, maar hy het nie ’n woord gesê nie. Hy het my selfoon uit my hand gegryp en by die kamer uitgehardloop.”

Wong sê sy dink die inbreker het vir haar hondjie, wat vir hom geblaf het, geskrik. Sy het gelukkig nie gedurende dié voorval seergekry nie.

Toe die inbreker by die deur uit is, het sy haar man van die landlyn af gebel om vir hom te sê daar is ’n vreemde man in hulle huis. Sy het haarself in die badkamer gaan toesluit. Haar man het die bure en die polisie na die huis ontbied, maar teen die tyd wat die polisie by haar huis opgedaag het, was die man skoonveld.

Wong sê sy het ‘n saak by die polisie geopen en sy en haar man beplan nou om ’n paniekknoppie in die kamer te laat installeer. Hulle wil ook nuwe heinings om hul huis sit.

“Dis die eerste keer dat hulle ín my huis inkom. Die vorige kere het hulle maar dinge soos tuinslange en pype op ons erf kom steel.”