Korona-pasiënt kan nou huis toe

Deel hierdie storie / Share this story

Die eerste pasiënt wat in Suid-Afrika met die koronavirus gediagnoseer is, is reg om huis toe te gaan, sê dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid.

Dr. Mkhize het Sondag 8 Maart die gemeenskap in Pietermaritzburg naby Hilton, oor die koronavirus toegespreek.

Hy het gesê hy het met een van die verpleegsters wat na die 38-jarige korona-pasiënt omsien, gepraat. Volgens haar is die pasiënt amper volkome herstel en gaan hy binnekort ontslaan word.

Die eerste en die derde geval van die gevreesde virus is in Hilton bevestig.

Die man het met sy terugkeer na Suid-Afrika sy huisdokter gaan oor griepsimptome gaan spreek. Robyn Reed, sy dokter, het onraad vermoed. Sy het hom dadelik vir die virus laat toets en haarself ook in isolasie geplaas. Die pasiënt se toetsuitslae was positief.

Dié man se vrou is toe ook getoets en sy was die derde persoon wat met die virus in Suid-Afrika gediagnoseer is. Dié paartjie se twee kinders se toetsuitslae was negatief. Die kinders bly steeds in isolasie tot een van die ouers negatief toets.