KIMBERLEY – Bettie Fourie, ’n ontstelde inwoner van Robinsonstraat in Herlear, het aan FiND iT foto’s gestuur van die sypaadjie voor haar huis wat volgens haar in ‘n stortingsterrein verander het.
Fourie bly al vir die afgelope 28 jaar in haar huis in Robinsonstraat en dis volgens haar die eerste keer wat mense in dié straat almal hulle vullis op een hoek aflaai. Sy sê sy hou haar huis baie netjies en sit elke week haar een swartsak voor haar huis neer.
Fourie is moedeloos oor die nuwe “stortingsterrein” wat voor haar huis ontstaan het. Volgens haar het die inwoners van die straat al dinge soos ou toilette, stukkende kaste, sakke vol gras en bourommel daar kom aflaai.
“Daar is ook persone wat die swartsakke hier reg voor my huis stukkend skeur om binne-in te krap. Die papiere waai tot voor my deur.”




