KIMBERLEY – Vals gerugte doen die rondte nadat ’n plaaslike koerant ’n berig geplaas het wat beweer die gemeenskap het die hond wat kinders gister in Ipopeng gebyt het, met klippe doodgegooi.
Dit is egter nie die waarheid nie. FiND iT het vanmiddag ’n afspraak met Mario Van der Westhuizen, bestuurder van Kimberley se Dierebeskermingsvereniging, gehad.
Tydens die afspraak is daar vir verslaggewers gevra om hulle selfone in te handig sodat geen video materiaal geneem kan word terwyl Van der Westhuizen ’n video wys van hoe die hond regtig dood is.
Volgens die berig in die plaaslike koerant, het die pa van een van die kinders wat deur die hond gebyt is, na die toneel teruggekeer om die hond te gaan soek. Daar het hy ’n skare mense gevind wat besig was om die hond te stenig. Hy het na bewering die hond daarna hospitaal toe probeer neem.
Video wys die waarheid
Die video wys egter die waarheid van wat gebeur het. In die video wat Van der Westhuizen gewys het, kan mens sien hoe die pa van een van die kinders die hond, wat vasgemaak is aan ’n paal, eers met ’n graaf slaan, met klippe gooi en dan met ’n staalpyp doodslaan.
Van der Westhuizen sê ’n saak is teen die pa van die kind gemaak. “Daar is maniere om goed te hanteer, hierdie was definitief nie die regte manier nie. As ek nie ’n saak maak nie, gaan diereliefhebbers my kruisig. As ek ’n saak maak, gaan die ouers van die kinders ontsteld wees. Ongelukkig kan mens nie wen in die situasie nie. Dit is my werk en verantwoordelikheid om ’n saak te maak.”
Die twee kinders van onderskeidelik drie en sewe jaar oud is gister deur die hond gebyt terwyl hulle in die tuin gespeel het. Daar is onsekerheid oor of die hond oor die muur gespring het en of hy by die hek ingekom het. ’n Gedeelte van die 3-jarige se kopvel was tydens die voorval afgeruk. Die 7-jarige het erge beserings aan sy gesig, bene en arms opgedoen sowel as ’n gebreekte kakebeen.



