KIMBERLEY – PG de Klerk, ’n inwoner van Lawstraat in Kimberley, is moedeloos oor die geraas waarmee hy elke dag opgeskeep sit.
De Klerk woon al vir die afgelope 30 jaar in sy huis in Lawstraat, New Park. Volgens hom het die geraas en gekuier begin toe daar om en by twee jaar gelede nuwe huurders by die huis oorkant die straat ingetrek het.
“Hulle stop sommer op die sypaadjie. Hulle maak al die karre se deure wawyd oop en speel dan hulle doef-doef musiek. Hulle skree en lag soms so hard dat ek nie kan slaap nie.”
Dié gekuier hou volgens De Klerk soms aan tot 03:00.
De Klerk en sy buurman het al telkemale die polisie in kennis gestel van die rusverstoring en is só moedeloos omdat daar tot op hede nog niks aan die situasie gedoen is nie.
“Ek moes al self die vullis en ontlasting wat hulle voor my huis los na so ’n kuiertjie, optel. Ek is siek hiervoor.”



