Juffrou Koekies geniet die lewe na aftrede

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY – Roelien Flemming, die geliefde onderwyseres van Elizabeth Conradie in Kimberley wat in Januarie vanjaar afgetree het, gesels met FiND iT oor hoe die lewe haar nou behandel.

Flemming sê sy het gewonder hoe dit gaan wees as sy eers afgetree is. Sy sê sy het haarself gereeld afgevra of sy nie miskien gaan spyt wees oor haar besluit nie.

“My dae is nou vol van die mooiste dinge. Ek geniet my tuin, my huis, my kinders, my dierekinders, my kleinkinders, my man, my sussie en sommer almal wat in my lewe is.”

Sy sien nou kans vir dinge wat sy nog altyd wou doen. “Ek doen naaldwerk, ek skilder en ek werk aan my tuin.”

Flemming sê sy wonder party aande hoe die dae so vinnig verbyvlieg.

Een ding waarna Flemming verlang, is die kinders by die skool. “Ek mis die kinders elkeen geweldig baie. Hulle almal was vir my so kosbaar.”

 “Dis vir my so wonderlik om te besef daardie versie in Prediker wat sê alles het ’n tyd, is waar. Dit was vir my tyd om af te tree.”

Foto: Een van die briefies wat Roelien Flemming by een van die leerlinge in haar klas gekry het.