Vier nasionale melktertdag met Ouma se heerlike melktertresep.
Die bestanddele vir Ouma se melktert
Kors:
- 125 g botter/margarien
- 50 g (60 ml) witsuiker
- 1 eier
- 275 g (500 ml) koekmeelblom
- 10 ml bakpoeier
- knypie sout
Vulsel:
- 1,5 l melk
- 50 g (60 ml) botter/margarien
- 4 eiers
200 g (250 ml) witsuiker - 70 g (150 ml) mielieblom
- 70 g (125 ml) koekmeelblom
- knypie sout
- 5 ml vanieljegeursel
- kaneel
Metode
Begin deur die botter oor ’n lae hitte te smelt.
Roer die suiker en eier daarby en sif die koekmeelblom, bakpoeier en sout saam en meng dit met die eiermengsel tot dit ’n deeg vorm.
Druk die deeg in twee tertbakke in en prik.
Bak die korse vir ongeveer 10 minute teen 180 °C.
Kook die melk en botter saam in ’n dikboomkastrol.
Klits die eiers en suiker saam totdat dit liggeel en sponsagtig is.
Voeg die koekmeelblom, mielieblom, sout en vanieljegeursel by bogenoemde en klits verder totdat daar geen klonte is nie.
Klits nou ’n bietjie van die kookmelkmengsel by die eiermengsel en klits dan al die eiermengsel by die kookmelkmengsel.
Plaas die mengsel terug op die stoofplaat en roer dit vinnig totdat dit weer kook.
Haal van die stoofplaat af, bedek, en laat vulsel ’n paar minute staan.
Gooi nou die warm vulsel in die korse en strooi kaneel bo-oor.
Bak die terte dan vir ongeveer 10 minute lank verder.
’n Bietjie ekstra suiker kan oor die vulsel gestrooi word, indien verkies.
Resep deur Mia de Waal



