Kinderpornografie: deursoeking onwettig?

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY. – Roelof du Toit (40), wat aangekla word vir die vervaardiging en verspreiding van kinderpornografie, is op borg vrygelaat.

Die saak is tot 7 Julie vir ’n binneverhoor, uitgestel. Die binneverhoor sal bepaal of ’n boks kinderklere wat in ’n woonstel waarin Du Toit op Warrenton gewoon het, wettig bekom is.

Die boks kinderklere is tydens ’n deursoeking by dié woonstel gekry. Ao. Dalene Grobbelaar, die voormalige ondersoekbeampte, het Maandag getuig sy het op kamptoerusting, waaronder matrasse en kussings, asook die boks klere, beslag gelê.

Markus Mafaro, Du Toit se regsverteenwoordiger, voer aan die deursoekingslasbrief wat uitgereik was om die woonstel op Warrenton te deursoek, slegs uitgereik was om op kamptoerusting beslag te lê.

Rodney Makhaga, aanklaer, het in die hof gesê die boks klere is nie as bewyse ingedien nie en daar is dus geen rede vir ’n binneverhoor nie.

“Sekere items mag op beslag gelê word sonder ’n deursoekingslasbrief. As enigiets gekry word wat betrekking het tot die soektog.” (Certain items may be ceased without a search warrant. If anything is found of relevance during the search.)

Mafaro het aangedring dit is onwettig bekom en die verhoor is onregverdig.

Du Toit is in Januarie 2014 in hegtenis geneem nadat ’n Amerikaanse polisie-agent hom as ’n 15-jarige kind voorgedoen het. Hy het met hom oor e-pos begin praat. Du Toit het glo destyds saam met ’n 12-jarige kind in Kimberley in New Park gebly. Foto’s van dié kind is glo oor e-pos deur Du Toit versprei. Hy is oorspronklik op twee klagte van kinderverkragting aangekeer.

In 2016 is die saak van die rol in die Barkly-Wes-landdroshof geskrap, omdat die staat nie voorbereid was nie.

Die saak is weer deur die nasionale vervolgingsgesag (NPA) aanhangig gemaak.

Du Toit het skuldig gepleit en op 13 Junie, die dag van sy vonnisoplegging, sy pleit van skuld onttrek. Hy het beweer sy voormalige regsverteenwoordiger het hom aanbeveel om skuldig te pleit.

Die saak het toe weer van vooraf begin. Hy het in Augustus ’n dringende borgtogaansoek in die Galeshewe-landdroshof aangevra. Hy is op 23 Augustus op borg vrygelaat.

Mafaru is Du Toit se vyfde regsverteenwoordiger. Die ondersoekbeampte is sers. Tokkie van Rensburg. Die binneverhoor vind vanaf 7-10 Julie plaas.