BLOEMFONTEIN – Mimie Jacobs, ’n boer op ’n plaas net buite Bloemfontein, is Saterdagaand op haar plaas aangeval. Drie mans wat met messe gewapen was, het ongeveer 20:00 by haar plaashuis ingebreek en haar aangeval.
Volgens haar broer, Graham Jacobs, het ’n stuk van een van die messe in haar skedel agtergebly. “Hulle het haar vasgemaak en probeer om ‘n e-wallet betaling te maak. Hulle het gedreig om haar te verkrag, sou sy nie die PIN-nommer vir hulle gee nie.”
Volgens Jacobs het sy nadat hulle die geld gekry het, ontsnap en na haar buurman gehardloop, wat toe ’n ambulans gebel het.
Sy is na die Medi Clinic-hospitaal geneem waar hulle die stuk van die mes se lem wat in haar skedel afgebreek het, verwyder het.
Jacobs sê sy suster herstel goed na die aanval.



