Dringende vergadering met minister versoek

Deel hierdie storie / Share this story

SUID-AFRIKA – Solidariteit het ʼn dringende vergadering met die minister van indiensneming en arbeid, Thulas Nxesi, en die direkteur-generaal van die departement van arbeid, Thobile Lamati, aangevra om die gebrek aan dienslewering wat by die Vergoedingsfonds ondervind word, te takel.

“Die fonds se bedrywighede het die afgelope paar maande tot ʼn algehele stilstand gekom. Hierdie toedrag van sake het ontstaan toe ʼn nuwe rekenaarstelsel in September 2019 ingestel is,” het adv. Hanlie van Vuuren, Solidariteit se hoof van beroepsgesondheid en -veiligheid, gesê. Sy het ook aangedui dat nóg werknemers, nóg belanghebbendes die diens wat aan hulle verskuldig is van die Fonds ontvang.

Solidariteit help en verteenwoordig verskeie werknemers wat in die loop en uitvoering van hul pligte beseer is en wie se eise binne die bestek van die Vergoedingsfonds val.

“Wat selfs meer kommerwekkend is, is dat die stelsel nou, ongeveer ses maande later, steeds nie in werking is nie en navrae wat aan die Fonds gerig word steeds onsuksesvol is. Op die oomblik het nie eens personeellede van die Vergoedingsfonds toegang tot die stelsel nie,” het Van Vuuren vervolg. “Weens hierdie benarde situasie kan nuwe eise nie geregistreer word nie, werknemers kan nie betaal word vir tydperke van afwesigheid nie en dokters kan nie nuwe pasiënte behandel nie omdat geen nuwe eisnommers beskikbaar is nie. Betalings kan ook nie verwerk word nie.”

Daar rus ʼn regsverpligting op werkgewers om vergoeding vir verlies aan inkomste vir tot ʼn maksimum tydperk van drie maande te betaal. “Dit is die werknemers wat nou ly. Die tydperk van drie maande is lank reeds verstreke en werkers sit sonder inkomste,” sê Van Vuuren.

Vergoeding val ingevolge die Wet op Vergoeding binne die bestek van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika. “Versuim om statutêre pligte na behore uit te voer, sal daartoe lei dat Solidariteit hom tot alle beskikbare regsmiddele sal wend, insluitend om die howe, die Menseregtekommissie en die Openbare Beskermer te nader,” het Van Vuuren afgesluit.