KIMBERLEY – Die staking van die studente aan die Sol Plaatje-universiteit duur steeds voort. Die studenteraad en studenteraadslede staan vas in hul eise en weier om die staking stop te sit.
Die studenteraad het weer ’n omsendbrief aan alle studente uitgereik. In die brief verklaar die studenteraad hoe daar nie aan die studente se eise ag gegee word nie. Die studenteraad is ongelukkig omrede die president van die studenteraad van die universiteit geskors is.
Die studenteraad voel dit is nodig om lojaliteit teenoor hul studenteleiers te toon deur klasse te boikot.
Daar is studente wat op die Sol Plaatje-universiteit se Facebook-blad kommentaar lewer waarin hul dreig om die staking nóg ’n stap verder te neem.
Kiekie Remoneilwe Kalankate se kommentaar lui: “Ons brand hulle.”
Thato Kgwasi sê op die universiteit se Facebook-blad: “Stuur vir my jou rooster. Ek sal jou persoonlik uit jou klasse kom uitsleep.”
Die Sol Plaatje-universiteit het ’n amptelike brief aan alle studente gestuur waarin daar bevestig word dat daar geen klasse vir die dag aangebied sal word nie.



