INTERNASIONAAL – Wetenskaplikes aan die Universiteit van Massachusetts Amherst het ’n apparaat ontwikkel wat ’n natuurlike proteïen gebruik om elektrisiteit uit vog in die lug te skep.
Volgens die wetenskaplikes kan die tegnologie wesenlike implikasies vir die toekoms van hernubare energie, klimaatsverandering en die toekoms van medisyne hê, berig Phys.org, ’n aanlyn wetenskaptydskrif.
Soos berig in Nature het Jun Yao, ’n elektriese ingenieur en Derek Lovley, ’n mikrobioloog, ’n toestel geskep wat hulle ’n “Air-gen” of ’n lugaangedrewe kragopwekker noem. Die Air-gen verbind elektrodes met die proteïen-nanodrade wat op so ’n manier ’n elektriese stroom opwek uit vog wat natuurlik in die atmosfeer voorkom.
“Ons maak letterlik skoon elektrisiteit 24 uur per dag uit die lug,” verduidelik Yao.
Navorsers sê die huidige generasie Air-gen-toestelle kan klein elektronika aandryf, en hulle verwag dat die uitvinding binnekort op ’n kommersiële skaal sal wees.



