PHUTHADITJHABA – Twee broers, Matetela Fani Monareng (24) en Mohau Ben Monareng (21) van Bochabela Village op Qwaqwa, het vlugtig op 12 Februarie 2020 in die landdroshof op Phuthaditjhaba verskyn. Hulle word van die moord op hul biologiese pa aangekla.
Brig. Motantsi Makhele, polisiewoordvoerder, sê op 10 Februarie 2020 omstreeks 23:07 het ’n 24-jarige man na die polisiekantoor gekom om ’n voorval van gesinsgeweld by hul huis aan te meld. “Die polisie is saam met die man na sy woning en hulle het met hul aankoms ’n lyk van ’n man op die grond gekry. Sy keel is afgesny en veelvuldige steekwonde is aan sy bolyf gevind. Die oorledene, Nono Paulsi Monareng (49), wat ’n algemene werker by die Phuthadijhaba-Mounted Unit was, is op die toneel dood verklaar.”
Tydens die voorlopige ondersoek word beweer die oorledene het met sy jongste baklei, wat uiteindelik tot die steekwonde gelei het. Albei broers is in hegtenis geneem.
Die motief vir die moord is in hierdie stadium onbekend. Die saak is tot 26 Februarie 2020 vir formele borgtogaansoek uitgestel.



