Toename van vlieë in stad

Argief.

KIMBERLEY – Inwoners is bekommerd oor ’n toename van vlieë in die stad.

’n Leser het FiND iT gevra wat die redes is vir die toename van die pes. FiND iT het dit ondersoek. 

Beryl Wilson, departementshoof van dierkunde by die McGregor-museum, sê met meer as 500 spesies vlieë sal ons hulle in en om die huis en by besighede vind.

Sommige spesies is meer algemeen as ander en hulle is aangetrokke tot verskillende omgewings wat by hul natuurlike gewoontes en lewensiklus pas.

Wilson sê ’n ongewoon groot getal verskillende insekte, insluitend die Grasveldwitjie-vlinder (Brown-veined White) en vlieë kom regoor die land voor.

Terwyl die skoenlappers ooswaarts na Mosambiek vlieg mooi is, is niemand lus vir die gewemel van vlieë wat ons huise binnegedring het nie, sê sy.

As gevolg van die warm, droë weer verlede winter het baie van die vlieë oorleef, wat beteken het dat ons dié somer meer broeiende vlieë het. Wilson sê dieselfde geld vir bosluise en muskiete, wat ook dié seisoen volop is.

Die onlangse reën het gesorg vir meer geleenthede vir die vlieë, wat in verrottende organiese materiaal broei.

Hulle benut ook afval en ontlasting, sê Wilson. Daarom maak die teenwoordigheid van informele stortingsterreine in woonbuurte, troeteldier-ontlasting en vullis in jou tuin baie aantreklike broeiplekke vir die vlieg.

Alhoewel vlieë ’n oorlas kan wees, is dit ook belangrik vir die omgewing. Hul larwes help om afval te herwin, terwyl die volwasse vlieg ’n belangrike bestuiwer is.

Wilson maan inwoners om goeie huishouding te beoefen in plaas daarvan om insekdoders te gebruik wat ander insekte kan benadeel.

Wenke om vlieë weg te hou:

  • Verwyder troeteldiere se ontlasting;
  • Hou voedsel, afval en vullisdromme geseël;
  • Hou vensters en deure toe;
  • Installeer skerms voor deure en vensters;
  • Monitor jou dreine en verwyder enige afval;

Wilson sê vlieë beweeg in hulle kort lewens selde meer as 2 tot 3 km vanaf hulle oorsprong.

Sy sê daarbenewens is sommige inwoners van Kimberley ook die afgelope tyd geraak deur ’n gebrek aan dienslewering. Vullisverwyderingstrokke wat buite werking en stakings veroorsaak het dat vullis nie gereeld verwyder is nie. Dit het die geleentheid geskep vir probleme met vlieë, sluit Wilson af.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *