Kabeldiewe sak weer toe

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY – Die koperkabeldiewe se vingers is weer lank. Die gebiede van Cassandra en Ernestville gaan erg gebuk onder koperkabeldiefstal.

Sol Plaatje-munisipaliteit sê op hul Facebook-blad: “Die gebiede van Cassandra en Ernestville is sedert die vroeë oggendure sonder elektrisiteit omdat die koperkabels weer gesteel is. Die munisipaliteit se elektrisiëns is besig om weer die betrokke gebiede, wat daagliks geteiken word, met mekaar te verbind.”

Die munisipaliteit het patrollies in die gebied ingestel en het beloof om die patrollies uit te brei om sodoende ’n groter gebied teen misdaad te beveilig.

Verder lui die woorde op Sol Plaatje se Facebook-blad: “Ons doen ’n beroep op wetstoepassingsagentskappe om hierdie misdadigers van die vernietiging van noodsaaklike infrastruktuur aan te kla. Dit is nou ’n kriminele oortreding wat streng gevonnis moet word.”