Tot op hede is altesaam 535 993 aansoeke vir die Basiese Polisie-leerontwikkelingsprogram by die 1154 polisiestasies landwyd geregistreer. Om deursigtigheid te verseker, word die werwingsproses deur ’n direksie bestaande uit die senior bestuur van die polisie, sowel as eksterne belanghebbendes, insluitend lede van die gemeenskap, gemonitor.
Brig. Vish Naidoo, polisiewoordvoerder, sê: “Die siftings- en keuringsproses vir die Basiese Polisie-leerontwikkelingsprogram (BPLDP) vir die boekjaar 2019/2020 is nog aan die gang.”
Genl. Khehla John Sitole, nasionale polisiekommissaris, sê: “Die aantal aansoekers wat ontvang is, is meer as ’n halfmiljoen en dit is bemoedigend om te sien hoeveel jong mans en vroue in Suid-Afrika gereed is om hul medemens te dien en te beskerm. Om te verseker dat ons gedissiplineerde, opregte en passievolle kandidate aanstel, sal slegs die aansoekers wat aan alle vereistes voldoen, aangestel word, vandaar die streng proses wat tans ontvou. Ons wens alle aansoekers die beste toe en ons sien uit daarna om elkeen in ons geledere te verwelkom.”



