KIMBERLEY. – As Suid-Afrikaners hou ons almal van ons “dop en tjop” en is ’n glasie wyn na werk heel lekker.
Maar wanneer raak dit ’n probleem?
Estee Huyse Neethling, ’n FiND iT-leser sê dis baie moeilik. “Dis nie ’n maklike pad om te sap nie. Die ondersteuning van familie is baie nodig (wanneer iemand in die familie ’n alkoholis is). Dis nie ’n pad wat vir enigiemand beskore is nie. Die pad om hom deur die hele stryd te help, vat tyd, geduld en die vermoë om deur teleurstellings staande te bly.”
Die John Hopkins University-hospitaal het ’n vraelys voorberei om te bepaal of ’n persoon aan alkoholisme ly.
Om dié vraag te beantwoord, vra jouself die volgende vrae af en antwoord so eerlik moontlik.
- Verloor jy tyd by die werk as gevolg van jou drankgebruik?
- Maak jou drankgebruik jou huislike lewe ongelukkig?
- Drink jy omdat jy skaam is tussen mense?
- Benadeel jou drankgebruik jou goeie naam?
- Het jy al ooit jouself verwyt ná jy gedrink het?
- Het jy al in geldelike moeilikheid beland as gevolg van jou drankgebruik?
- Begewe jy jou in laer geselskap en ’n swakker omgewing wanneer jy drink?
- Maak jou drankgebruik jou onverskillig oor jou gesin se welsyn?
- Het jou ambisie afgeneem vandat jy drink?
- Smag jy daagliks op ’n sekere tyd na ’n drankie?
- Wil jy die volgende môre ’n regmaker hê?
- Veroorsaak drank dat jy moeilikheid het om te slaap?
- Het jou doeltreffendheid afgeneem vandat jy drink?
- Veroorsaak drank dat jy jou werk of jou besigheid kan verloor?
- Drink jy om weg te kom van bekommernis en moeilikheid?
- Drink jy alleen?
- Het jy al ooit totale geheueverlies gehad as gevolg van drank?
- Het jou dokter jou al ooit behandel vir drank?
- Drink jy om vir jou meer selfvertroue te gee?
- Was jy al ooit as gevolg van drank in ’n hospitaal of ’n inrigting?
As jy ja geantwoord het op enige een van hierdie vrae, is daar volgens die AA ’n definitiewe waarskuwing dat jy ’n alkoholis mag wees.
As jy ja geantwoord het op enige twee, dan is dit moontlik dat jy wel ’n alkoholis is.
As jy ja geantwoord het op drie of meer, dan is jy beslis ’n alkoholis.
As jy dink jy het hulp nodig, skakel Alcoholics Anonymous (HELP AA) 0861 435 722 of gaan na www.aanonymous.org.za.
As jy ‘n storie het om te vertel oor ‘n familielid wie jy al moes bystaan deur alkoholisme, stuur ‘n epos aan [email protected].
*FiND iT is geensins ‘n mediese instansie nie. As jy vermoed jy het ‘n probleem, praat met jou dokter.



