HARTSWATER – Twee manlike verdagtes van 18 en 21 jaar oud is in hegtenis geneem nadat hulle glo in afsonderlike voorvalle by ’n snoepwinkel oorkant die plaaslike hoërskool op Hartswater drie leerders na bewering met ’n mes gesteek het.
Leerders gesteek
Brig. Mohale Ramatseba, polisiewoordvoerder, sê: “Die eerste voorval het op 21 Januarie 2020 omstreeks 14:30 plaasgevind waartydens ’n 18-jarige man na bewering met ’n mes gesteek is. Die tweede voorval het op 23 Januarie 2020 om 11:35 plaasgevind, by dieselfde snoepwinkel waartydens twee leerders van 19 jaar oud ook deur die twee verdagtes gesteek is.”
Verdagtes probeer wegkruip
Die verdagtes is op 28 Januarie op twee verskillende plekke op Hartswater in hegtenis geneem nadat hulle weggekruip het ná die voorvalle. Een van die leerders is in ’n plaaslike hospitaal in Kimberley opgeneem.
Die polisie ondersoek ’n saak van poging tot moord. Die verdagtes sal binnekort in die Hartswater-landdroshof verskyn.



