KIMBERLEY. – Inwoners is bekommerd oor ’n gevaarlike gat in Elkinstraat. Eddie Smith, inwoner in die gebied, vertel aan FiND iT oor hoe gevaarlik die gat is.
Van die 25ste af
Die gat is al van die 25ste November af daar en het intussen groter geraak. Die munisipaliteit het daaraan gewerk. Smith sê: “Hulle het uitgekom, maar nie enigsins verder gegaan as om die gat toe te maak of water uit te kry nie.” Die inwoners se waterrekening word verhoog deur die gat waaruit water konstant loop.
Roete onveilig
Die roete is onveilig. Skoolkinders swem daarin. Daar is ook ’n kragdraad wat loop binne-in die gat onder die water, wat tot groot ongelukke kan lei. Strome water vloei af in die straat en motors en trokke gly om die draai. Ongelukke tussen voetgangers en onbeheerde motors kan in ’n oogwink plaasvind. Inwoners stel voor dat bakens opgerig word om mense te wys waar die gat is, want veral in die nag is dit nie duidelik sigbaar nie.
Navraag gedoen
FiND iT het navraag gedoen by die Sol Plaatje-munisipaliteit om ondersoek in te stel, maar wag steeds vir terugvoer.



