‘Haar liggaam, haar keuse’ of oor sensitiewe ouers?

Deel hierdie storie / Share this story

Die ‘haar liggaam, haar keuse’ gesegde het ’n wêreldwye debat tussen mammas van dogtertjies laat opvlam. Die debat is amper so groot soos die ‘keiser of normale geboorte’ en ‘borsvoed of bottelvoed’ debat en word vurig op sosiale media bespreek.

Dit alles gaan oor wanneer jy vir jou dogtertjie oorbelletjies moet laat inskiet. Vir jare lank is die tradisie om enige tyd van ses maande af vir jou dogtertjie oorbelletjies te laat inskiet. Deesdae is dit meer algemeen vir mammas om te wag tot haar dogtertjie oud genoeg is om daarvoor te vra. Dit is waar die ‘haar liggaam, haar keuse’ vandaan kom.

Mammas voel dit is vir klein lyfies te traumaties om dit so vroeg te laat inskiet. Hulle voel ook dit is nie jou keuse om te maak nie, maar eerder die van jou dogtertjie. Mammas redeneer, wat as jou dogtertjie nie oorbelle wil hê nie? Dan sit sy met daai gaatjies vir die res van haar lewe. Volgens die gesegde, ‘haar liggaam, haar keuse’ mag jy geen veranderinge aan jou kind se liggaam maak vir jou eie gewin nie.

Sommige mamma voel ook dit is ’n geleentheid om ’n band met jou kind te vorm en ’n spesiale oomblik te deel, wanneer jy wag tot sy self vra.

Ander mammas sê dit is beter om dit te doen terwyl hulle jonk is en nie aan die oorbelletjies kan trek of karring nie. Die pyn daarvan word binne sekondes vergeet.

Twee mammas praat uit

’n Mamma van Kimberley het haar dogtertjie se oorbelletjie op ses maande laat inskiet. “Dit was vinnig en pynloos. Sy het nie eers geskrik of gehuil nie. Ek dink dit is definitief beter om dit so vroeg te laat doen. Hulle is te klein om te besef wat besig is om te gebeur en hulle is ook te klein om daaraan te karring, so dit word vinniger gesond. Dit het haar nooit gepla nie.”

Nog ’n mamma van die stad het gewag tot haar dogtertjie self gevra het voordat sy vir haar oorbelletjies laat inskiet het. “Ek het gewag tot my dogtertjie gevra het vir oorbelle. Sy was drie jaar oud toe ons uiteindelik besluit het om dit te laat doen. Sy was baie opgewonde en het haar oorbelletjies self gekies. Die inskiet daarvan was egter aaklig. Sy het vreeslik geskree nadat die eerste een ingeskiet is. Sy wou nie sit sodat hulle die tweede een kon inskiet nie. Nadat ek mooi aan haar verduidelik het dat sy nou net een oorbelletjie gaan hê, het sy toe gesit vir die tweede een. Dit was weer ’n geskree en ’n gehuil. Ek sal nie sê sy is getraumatiseer daardeur nie, maar sy het daai aand baie onrustig geslaap. Sy het ook baie daaraan gepeuter. Dit was veronderstel om ’n bindingservaring te wees , maar dit was glad  nie vir een van ons twee lekker nie.”