JAN KEMPDORP – Deursettingsvermoë van die polisie in Kimberley het gelei tot die in hegtenisneming van twee verdagtes wat vir winkeldiefstal in die Kimberley-omgewing gesoek is.
Kol. Mashay Gamieldien, polisiewoordvoerder, sê: “Die twee verdagtes, ’n 59-jarige vrou en ’n 60-jarige man, is op Maandag 20 Januarie 2020 omstreeks 16:30 in ’n huis op Jan Kempdorp in hegtenis geneem.
Betrokke by nog sake
Na bewering het die twee dit reggekry om op Saterdag 18 Januarie 2020 die polisie in Kimberley te ontduik toe drie van hul medepligtiges vir winkeldiefstal in hegtenis geneem is.
Polisielede het inligting oor die twee verdagtes opgevolg wat hulle na Jan Kempdorp gelei het waar hulle daarin geslaag het om die verdagtes in hegtenis te neem
Na bewering is die twee ook betrokke by ander sake van winkeldiefstal in Kimberley en omliggende gebiede. Die verdagtes sal binnekort in die Kimberley-landdroshof verskyn.



