Ontgroening vir nuwe gr. 8’s

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY. – Elke gr.8 se grootste vrees is daardie eerste twee weke van ontgroening. FiND iT het gaan kers opsteek by van ons Adamantia-, DHS- en HNK-leerlinge om uit te vind wat hulle vir die groentjies beplan.

Adamantia hoofdogter vertel

Johané van Aswegen, hoofdogter van Adamantia Hoërskool, vertel aan FiND iT: “ By Hoërskool Adamantia strewe ons daarna om wel opgevoede en verantwoordelike jongmense die wêreld in te stuur.”

Daarom vat hulle hande om die gr. 8’s te help en om hulle meer te leer oor die skool. Vir ’n week lank het elke kuiken ’n matriek waar hulle ’n vrye keuse het om opdragte uit te voer wat aan hulle deurgegee word. Die kuikens se talente word dan afgestof vir die konsert. Hulle oefen elke middag na skool en is baie opgewonde. Die kuikens sal mekaar beter leer ken op die kamp.

Hier leer hulle ook die skoollied en vorm deel van die Addie-nes. Van Aswegen sê: “Die kuikens leef ons leuse: WERK EN DIEN, elke dag uit, want dis ’n fees om ’n Addie te wees!”

Johane Van Aswegen en haar “kuiken”

Diamantveld hoofdogter vertel

Talita du Toit, hoofdogter van Diamantveld Hoërskool, vertel hoe hulle graad 8’s van klippies na ’n pragtige diamant slyp. Die juniors, in samewerking met die matrieks, begin al ’n dag vroeër as die ander skole om sodoende genoegsame tyd met mekaar te spandeer en om die omgewing en mekaar te leer ken. “Hulle begin al ’n dag voor die Kimberley skole oopmaak om ons graad 8’s te betrek.”

In die week gaan hulle op ’n kamp waar hulle ook in groepe hulleself bekend maak. Hier vind interaksie met die matrieks en ander klippies plaas. Die skool se leuse is: A posse ad esse. (Moontlikheid ’n werklikheid te maak.) Daarom is dit vir die skool belangrik om van elke leerder se moontlikheid ’n werklikheid te maak.

Talita De Toit & Haar “Klippie”

Noord-Kaap hoofdogter vertel

Reagan Woodbridge, hoofdogter (senior leier) van Hoërskool Noord-Kaap, vertel, op 14 Januarie is die graad 8’s – ook bekend as “Torre” – verwelkom deur hulle op ’n toer deur die skoolgebou te neem. Woodbridge sê: “Die eerste paar dae is maar baie uitdagend vir die torre en die senuwees knaag.” Die matrieks van dié skool beveel gedurende hierdie tyd aan die graad 8’s om alle tipe takies te verrig, onder andere van die seuns moes die matriekmeisies vra om te trou. Takies soos dié verskaf ure se vermaak en breek so bietjie van die spannende atmosfeer wat juniors dikwels ervaar.

Reagan Woodbridge en haar “tor”

Al die torre is deel van die juniorkamp wat gedurende die 17de en 18de Januarie aangebied was. Hier word hulle geleer van die skool se kultuur, leer om spangees te bou en ook om in spanne saam te werk. Dit strook ook met die skool se leuse: “reik na die hoogste”.