KIMBERLEY. – Meer as R1.5 miljoen se dwelms is oor die feestyd in Kimberley deur die polisie gekry.
Lt. genl. Risimati Shivuri, provinsiale kommisaris van die polisie, sê die polisie het op 7 Januarie ’n groot deurbraak gemaak toe die Frances Baard reaksie-eenheid op ’n huis in Herlear toegeslaan het.
’n Man (30) is in hegtenis geneem vir die besit van dwelms.
Die polisie het 2.4 kg Khat en 500g Tik by dié huis gekry. Die waarde van dié dwelms is ongeveer R1.7 miljoen. ’n Voertuig, wat na bewering gebruik is om die dwelms te versprei, is ook gekonfiskeer.
Shivuri het die polisielede bedank vir hulle goeie werk om dwelmhandel in die Noord-Kaap hok te slaan. “Saam kan ons die gety teen misdaad verander.”



