Noodkreet na President Ramaphosa oor droogte

Deel hierdie storie / Share this story

John Steenhuisen, leier van die DA, saam met Andrew Louw, leier van die DA in die Noord-Kaap, het vandag ’n beroep op president Cyril Ramaphosa gedoen om die droogte in die land aan te spreek.

Steenhuisen sê die droogte raak al nege provinsies. As dit nie aangespreek word nie, gaan dit katastrofiese gevolge hê. “Die regering kan nie die situasie langer ignoreer nie. Die president moet dit Saterdag aanspreek. President Ramaphosa is al vir ’n groot gedeelte van hierdie week in ons Noord-Kaap provinsie met dié dat die ANC-verjaarsdagvieringe in Kimberley plaasvind. Watter provinsie kan die erns van hierdie situasie beter beklemtoon as die Noord-Kaap provinsie?”

Steenhuisen sê meer as 37% van die landelike gebiede in Suid-Afrika veg teen droogte. ’n Studie wat deur AgriSA gedoen is, toon aan dat 30 000 plaaswerkers verlede jaar hul werk verloor het as gevolg van die droogte.

“Hier in die Noord-Kaap provinsie is die boere op hul knieë. President Ramaphosa is hier in die Noord-Kaap en gaan die hele nasie Saterdag toespreek. Ek versoek die president om hierdie geleentheid te gebruik en die dringendheid van die droogte aan te spreek, asook om ’n voldoende antwoord te prioritiseer. Ons moet optree en ons moet nou optree,” sê Steenhuisen.