Kimberliete, julle is veilig, sê polisie

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY. – Met ’n verwagte bywoning van 25 000 ANC-lede die naweek by die Tafel Lager Park-stadion in Kimberley, is die polisie reg om die veiligheid van almal te verseker.

Alle veiligheidsdienste span saam

Brig. Vishnu Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, sê die nasionale gesamentelike operasionele en intelligensiestruktuur (NatJOINTS) is reg vir die naweek. Dié struktuur beskerm alle regeringsdepartemente van Suid-Afrika. Dit sluit in die weermag, veiligheidsdienste, die polisie en spesialismagte.

Die NatJOINTS het reeds met operasionele ontplooiings begin om die veiligheid van die inwoners van Kimberley, regeringsamptenare en alle belanghebbendes te verseker.

Bly binne wetgewing

“Alle wetstoepassers wat aan diens is, sal die wet te alle tye en op alle plekke waar hullr ontplooi word, toepas. Elke lid wat ontplooi is, het ‘n verantwoordelikheid en ’n verpligting om hul onderskeie mandate professioneel, onpartydig en met integriteit uit te voer,” sê Naidoo.

Lede van die publiek wat protesaksies en optogte beplan, word versoek om dit binne die wetgewing te doen.

Algemene veiligheid

Die NatJOINTS het ook verseker dat algemene veiligheid en dag-tot-dag-polisiëringsoperasies nie in gedrang kom vir alle wetsgehoorsame burgers van Kimberley gedurende die duur van die vieringe nie. Die gemeenskap in en om die Tafel Lager Park-stadion in Kimberley word gewaarsku om die volgende padsluitings vanaf 18:00 op 10 Januarie 2020 tot 11 Januarie 2020 om 18:00 te volg.

Hoek Jacobus Smit en Croninstraat
Hayston- en Jacobus Smitstrate
Waterwerke en Reservoirstrate
Jacobus Smit- en Duvenhagestrate
Jacobus Smit-, Duvenhage- en Groote Schuurstraat
Nooitgedacht- en Jacobus Smitstraat
Noord-Kaap Mall ingang 01
Noord-Kaap Mall ingang 02
William Gasson- en Bierbekstraat
Hoek Reservoir- en William Gassonstraat
Meyerstraat

Permitte wat inwoners in die omgewing van die Tafel Lager Park-stadion toegang tot hul huise toelaat, sal deur die veiligheidspersoneel van Sol Plaatje-munisipaliteit by hul huise afgelewer word.