Vuurwerk, jou diere en boetes

Deel hierdie storie / Share this story

Hierdie tyd van die jaar, veral op Oujaarsaand, wil mense partytjie hou en hulself geniet. Ongelukkig is daar altyd mense wat vuurwerke, klappers en krakers sien as deel van die pret. Diere se gehoor is baie meer sensitief as dié van mense, met die gevolg  dat duisende troeteldiere jaarliks ​​ly as gevolg van vuurwerk.

Dit is onwettig om vuurwerk in enige gebou, op enige openbare deurgang of in enige openbare plek of vakansieoord af te skiet sonder vooraf skriftelike toestemming van die plaaslike polisie. Dit kan gesien word as ’n kriminele oortreding en jy kan ernstig beboet word. Boetes so hoog as R2 500 kan aan oortreders opgelê word.

  • Vir die afskiet van vuurwerk, sal jy R1 500 beboet word.
  • Vir die besit van vuurwerk, klappers en krakers sal jy R1 000 beboet word.
  • ’n Persoon wat toelaat dat ’n minderjarige vuurwerk skiet, sal R1 000 beboet word.
  • Die gebruik van vuurwerk in ’n publieke plek, sonder toestemming, sal met R2 500 beboet word.

Tinus Pretorius, woordvoerder van die Brandweer, sê daar sal streng teen oortreders opgetree word.

Diere en vuurwerk

  • Die ontploffing van vuurwerk is nie net meer ontstellend vir diere nie, maar dit kan ook meer skade aan hulle gehoor veroorsaak.
  • Bang diere kan uit hul huise vlug om te probeer ontsnap van die ontstellende en verwarrende ontploffings.
  • Vuurwerk benadeel diere omdat dit vrees by hulle veroorsaak.
  • Herhaalde blootstelling aan onverwagte, onvoorspelbare harde geluide kan fobies by diere veroorsaak.
  • Krakers is giftig en gee skadelike deeltjies soos fyn stof af as dit ontplof.
  • Onverskillige gebruik van vuurwerke kan ook verminkings en dodelike ongelukke veroorsaak wanneer diere naby dit kom.
  • Vuurwerk kan ’n brand veroorsaak.

Hoe om jou diere te beskerm

  • Klein diertjies soos hase, hamsters en voëls moet met ekstra spesiale sorg tydens vuurwerk hanteer word. Hierdie diere word maklik bang.
  • Indien moontlik, bly by die huis saam met jou diere.
  • As jy nie by hulle kan wees nie, hou diere binne en verkieslik in ’n vertrek  soos ’n kombuis waar die vensters hoër is en moeiliker is om deur te spring.
  • Vra ’n betroubare vriend om na jou diere te kyk as jy nie tuis is nie.
  • Streel jou troeteldiere as dit hulle help om te ontspan.
  • Sorg dat jou troeteldiere ’n voedsame maaltyd geniet voor die vuurwerk begin. Dit sal hulle meer waarskynlik slaperig maak.
  •  Kruiemiddels vir diere kan help om hulle kalm te maak in situasies wat hulle angstig maak.
  • As jou troeteldiere sleg reageer op vuurwerk, vra dan professionele raad by jou veearts.